SKRYWE: OUDL PJ GREYLING AAN KURATORIUM

19 FEBRUARIE 2018

Geagte Ampsdraers

IS:       03 NOVEMBER 2017

  1. Ek het aanvanklik gedink om bloot u kommentaar van16 Januarie 2018 te ignoreer. Dit sou die maklike opsie wees maar as ouderling moet ek poog om sovêr as moontlik toe te sien dat mense nie mislei word nie. Ek meen, om oor die waarheid te beskik, dit dan weg te steek, dan ‘n kommentaar opstel te stel oor wat agt weke vantevore onder hoë spanning gebeur het en dit dan as waarheid voor te hou en dan poog om die waarheid te vernietig sodat niemand julle geheue kan toets nie, gaan net nie op nie. Dit is die mees absurdste poging tot die verkryging van integriteit wat ek in my 60-jarige leeftyd raakgeloop het.

  1. In teenstelling met my en my broer wat almal uitnooi om na die opname te luister doen julle jul bes om dit te verduister. Waarvoor is julle en die ander wat daar was, so bang? Wat gaan julle maak as daar nog ‘n opname bestaan? Ek wil u weereens versoek om nie dom dinge te doen nie.

  1. Maar voor ons verder gaan kom ons slaan ‘n paar merkers in. Dit is dan teen hierdie agtergrond dat sekere opmerkings gemaak word.
    • As ouderling van die gemeente en dus voor God het ek verklaar dat ek deur die gemeente en dus deur God self tot die amp geroep is. Ek het belowe om ywerig in die regering van die kerk te werk en om oor die stad en huis van God wag te hou;

  • Hierdie formulier waarsku die ouderling om elke vorm van alleenheerskappy en magsmisbruik uit die gemeente van God te weer. Die formulier stel dit dan ook dat dit iets is wat maklik gebeur wanneer die regeertaak slegs aan een persoon of ‘n paar toevertrou word. (‘n Vorige formulier gebruik die begrippe tirannie en heerskappy terwyl die formulier voortspruitend uit die sinode van Middelburg, die ouderling opdrag gee om te waak teen die tirannie van die predikant);
  • Om op te som, die regerende ouderling moet sy oë oophou vir baasspelerigheid, klein groepies en gemanipuleerde vergaderings. Daarby sit hy op die muur en kyk vir alle gevare wat die integriteit van die kerk kan bedreig of gebeure wat mense hulle respek vir die kerk laat verloor;

  • Hierdie verantwoordelikheid is nie sommer ‘n goeie daad vir die dag verantwoordelikheid nie. Ouderlinge kan nie die pad van Eli loop as hulle nie die Hofni’s en Phineas’s van hierdie wêreld (al is hulle ook ampsdraers) in toom hou nie. Verder waarsku die Here hulle om tereg te wys waar nodig en as hulle dit nie doen nie mag die Here hulle regsien (Esegiël 33:8). Hulle moet ook versigtig wees dat hulle God se kerk se goed oppas en laat groei en nie in die grond begrawe nie;

  • Gegewe hierdie verpligting is ampsdraers dan ook verplig om ander ampsdraers die ruimte en geleentheid te gee om hul verpligting teenoor God na te kom. Hulle mag nie oorheers word nie.

  1. Wie het die Ad hoc komitee ingestel?

4.1    Wat sê die Bondsvergadering se opdrag aan die Ad Hoc Komitee? Die kerngedeelte lees “word ‘n Ad hoc komitee aangewys om oor die verhouding tussen kerk en vereniging en relevante sake te besin” (my onderstreping). Baie duidelik werk ons hier met twee entiteite. Die een is de facto kerk. Die ander een wat in sy grondwet beskryf word as “Konstitusie van die Hervormde Gemeentevereniging” se status is onseker en juis daarom die Komitee. Een van die problemr is dat die grondwet so swak en onvolledig opgestel is dat dit nie eintlik ‘n vereniging daarstel nie.  Die opdrag is duidelik dat die kerk moet kyk wat dié se verhouding met die wêreldse vereniging is. Hierdie wêreldse vereniging se reels, wat dit ookal mag wees, is nie van toepassing op die kerk nie. Dit is juis die taak van die komitee om hierdie onsekere situasie te probeer uitsorteer. (Ek is van mening dat as u en u medestanders op 3 November 2017 bereid was om saam te werk die probleem baie maklik opgelos kon gewees het. Ek het my voorbereiding gedoen en ‘n hele paar, wat ek dink goeie idees is, gehad. Maar nou ja, julle het ander planne gehad).

  • Die feit is, die vereniging is die objek van die ondersoek. Die prinsipaal of opdraggewer is die kerk nl die Bondsvergadering. Ons het almal daar gesit as ampsdraers met geloofsbriewe. Die ondersoekobjek kan nie vir die kerk of sy komitees voorskryf wie hulle lidmate moet wees nie.

4.3    Toe die pogings om ons uit te dryf die een na die ander vou kom daar skielik ‘n mondelingse regsmening(sic) en word gesê dat buitelandse lidmate volgens die vereniging se grondwet nou nie meer lede van die vereniging is nie. Die samestelling van die Ad Hoc komitee is glo ongeldig omdat dit strydig met die geheime konstitusie is. (Wat ‘n hoop nonsens, die besluite van ‘n orgaan bly staan, selfs al is hulle ongeldig totdat dit deur ‘n volgende vergadering of ‘n hof tersyde gestel word.) (Vir die predikante wat belangstel, die artikel van Dr Johann Ernst in die Beeld van 17 Februarie 2018 wys baie duidelik jy moenie die burgerlike reg en kerkreg meng nie.) Die konstitusie wat niemand mag lees nie bepaal glo dat lidmaatskap beperk is tot gemeentes of kerke binne die RSA. Die samestelling van die Ad Hoc komitee is dus ongeldig omdat Oudl Jan Greyling van ‘n gemeente in Namibië kom. Die argument is natuurlik fataal gebrekkig aangesien die adviseur nie daarmee rekening gehou het dat dit nie die Vereniging is wat die Komitee aangestel het nie, maar die Bondsvergadering, ‘n vergadering van ampsdraers wat nog grotendeels die NHKA se reglement van orde volg. Hierdie fataal gebrekkige mening kom natuurlik soos manna uit die hemel. Die objek word toe skielik prinsipaal en skielik was die Ad Hoc komitee ‘n ongeldige kommissie. Daarom mag die wettig verkose sekretaris nie die opname in ontvangs neem nie. Soos u reeds weet het die twee Greylings die mening verwerp en nie die vergadering verlaat nie en was reg om voort te gaan.

4.4    Maar dit is nog nie die einde nie. U het waarskynlik agtergekom dat lidmaatskapargument geen water hou nie. Toe word sommer beweer dat hierdie Vereniging se grondwet die genoemde Kerk se grondwet geword het deur usuansie d.w.s deur gebruik. Ja, deur gebruik het dit nou ‘n grondwet geword. Hierdie geheime dokument wat niemand mag sien nie. Die dokument is oënskynlik op 09 September 2013 deur die sewe individue aanvaar. Maar vir usuansie of gebruik om regsgelding te verkry is daar ‘n paar vereistes. Dit moet algemeen bekend wees, dit moet nagevolg word en moet duidelik en redelik wees. Natuurlik moet dit ook nie strydend wees met die geldende reg nie. Vir ‘n begin dop dit toetse een en twee.

4.5    Verder, dit ook so dat ons met ‘n organisasie te doen het naamlik die kuratorium wat toelating van gemeentes tot die GHG reël en hanteer. Hierdie organisasie word skaars in die Vereniging se grondwet genoem. Geen bevoegdhede bind die kuratorium nie. Trouens, die konstitusie handel nie met die toelating van lede nie. Natuurlik ‘n wesentlike gebrek. Hierdie kuratorium steur hulle dan ook nie aan voorwaardes vir lidmaatskap soos gebiedsbeperking nie. Trouens, buitelanders dien op hierdie belangrike liggaam.  Usuansie is in die geval ‘n blote mite. Die adviese wat u ontvang het is op nog ‘n punt gebrekkig. Die “gebiedsklousule” waaragter u skuil handel met die verantwoordelikheidsgebied en nie lidmaatskap nie. As die vereniging enigsins bestaan of kan bestaan in die lig van die gebrekkige grondwet opereer dit net in die RSA. Dit beperk nie sy lidmaatskap tot ‘n bepaalde gebied nie. Baie instansies soos maatskappye beperk die gebied van aktiwiteit tot ‘n bepaalde land maar die aandeelhouers sit die wêreld vol.

  1. Waarom mag die gemeentes/kerke se ouderlinge en predikante nie die dokument wat genoem word, “Konstitusie van die Hervormde Gemeentevereniging” nie sien en/of bespreek nie? Waarom is dit ‘n geheim? Is dit omdat hulle geen belang daarby het nie en dit die konstitusie van ‘n klein groepie is? Die dokument is deur sewe persone onderteken. Niemand het namens ‘n gemeente onderteken nie. Is hierdie ‘n klein groepie binne die organisasie of is hierdie ‘n klein organisiasie binne ‘n groep? Oudl De Ridder weet u dalk wat hier aangaan?

  1. Tyd van die vergadering

6.1    U verduidelik baie maar u antwoord nie die een kardinale kwessie nie. Waarom kon die vergadering nie later begin nie? Ek is tog die enigste een wat ‘n lang pad moes terugry? Hoekom ons in die advokate se kamers moes vergader bly nog steeds ‘n misterie. Die enigste sinvolle motivering om nie die tyd te skuif nie is indien daar ‘n latere vergadering in die lokaal sou plaasvind. Dit weet ons reeds was nie die geval nie. Soos Br Du Plessis te kenne gegee het, ons kon tot laatnag daar sit. Toe ons daar weg is, was dit net die komitee se mense daar. Ek kuier nie op Vrydae nie. U moet u dalk meer steur aan ‘n hoflike versoek en die redelikheid daarvan as om u te laat lei deur ander se kuiergewoontes.

6.2    Net ‘n opmerking oor die skrywer se praktyk wat u dalk nie raakgelees het nie. Ek doen ook forensiese- en voldoeningsondersoeke. Trouens, die skrywer het ‘n meestersgraad in forensiese rekeningkunde en juis as gevolg van die agtergrond doseer hy korporatiewe regeerkunde vir MBA studente aan die Noordwes Universiteit. Vir ons soort skep ‘n vergadering wat op ‘n snaakse tyd gereël word altyd suspisie, veral as ‘n redelike versoek om dit te skuif van die hand gewys word.

  1. Koöptering

7.1    Die genotuleerde besluit lees soos volg: “Die komitee kan lede koöpteer met die oog op die afhandeling van opdragte”. Die korrekte wyse en etiket sou dan wees dat die koöptering ‘n punt op die agenda van die eerste vergadering sou wees. Dit is baie duidelik dat die bevoegdheid by die komitee lê. As die dagbestuur dan sou voel dat hulle sekere lede graag daar sou wou hê, kan dié maar in korrespondensie met die komitee tree en die komitee sal daaraan oorweging skenk. Ons het tog nie hier met ‘n hierargiese verhouding te doen nie, of het ons?

7.2    Ek is bly dat u my steek oor die bybring van ouderlinge raakgelees het. Dit ondersteun juis die punt. Ons kan nie almal maak soos ons lus het nie. Die vergadering wat die komitee geskep het, bepaal hoe ons dit moet doen. Dit moes u dan ook op die vergadering toegee. Wat die beweerde vertraging van die vergadering betref kan ek maar net meld dat dit partykeer nodig is as dit oor ordelikheid gaan. Koöptering was in elk geval iets wat op die agenda geplaas moes gewees het en aangespreek moes word. Die tyd sou dan meer sinvol gebruik gewees het. Die probleem het ontstaan as gevolg van ander kwessies. Ek is verstom dat u nou skielik bekommernis het oor tyd. Hoeveel tyd het u Broederbond en spioenjag item in beslag geneem? Hoe lank moes ons na ‘n klomp warm lug sit en luister terwyl niemand een feit op die tafel kon sit om dit te ondersteun nie.

7.3    U maak die bewering dat daar ‘n uitnodiging aan almal gerig was om deel te hê aan die komitee se werksaamhede. As u groter deelname wou hê hoekom het u dit nie in omsendskrywes vermeld nie. Ek wil dit aan u stel dat bitter min mense geweet het dat die komitee daardie middag sou sit en ek kan dit ook aan u stel dat as u algemene bywoning wou gehad het, u tyd totaal onhebbelik was.

  1. My Verkiesing

8.1    Oor my verkiesing die volgende ter inligting aan Oudl. De Ridder. Nog Dr. Otto, nog my eie vrywilligheid het my op die komitee gekry. Ek is in die vergadering voor almal deur Ds. Parkin voorgestel. Gaan kyk maar na die notule soos versprei. Daar staan ek is op die komitee verkies. Trouens, u het klaarblyklik na die klankopname van die eerste deel van die Bondsvergadering geluister. U het dan seker ook na my voordrag geluister waar ek my teensin en voorbehoude teen die skep van so ‘n komitee uiteengesit het. My voorspelling was nogal in die kol, nê. My bekommernis is egter, hoekom die moedswillige wanvoorstelling?

  1. Meerderheids-/ Minderheidsverslag

9.1    Ek merk dat u nog steeds aan die begrip bly klou. Dit het na vore gekom op die vergadering toe u besef die uitdryf het misluk en dat ons nie die kongressionalistiese kerkbegrip as vertrekpunt vir die gespek aanvaar nie en dat ons in elke geval met ons opdrag gaan voortgaan. Dit was duidellik dat ons nie sou toelaat dat die komitee gebruik word om die Bondsvergaderingbesluite van 2013 te ondermyn nie. As die groep ‘n kongressionalistiese kerkorde wil hê dan moet hulle openlik so sê en hulle beskrywingspunt op die tafel plaas. Hulle moet nie dit probeer insluip nie.

9.2    Die interessante vraag is, hoe weet u wat die minderheid en meerderheid is? Daar is mos nog geen standpunte uitgeruil nie? Of is dit omdat die regte mense gekoöpteer is? Meerderheids- en minderheidsverslae is vir kerklike vergaderings in elk geval ‘n irrelevantheid. Die komitee se taak is om die skropwerk te gaan doen en te sorg dat alle verantwoordelike standpunte en sienings voor die besluitnemende vergadering geplaas word om in die lig en ondersteuning van die Heilige Gees die regte besluit te probeer neem. Om ‘n meerderheidsverslag te verkry is maklik – koöpteer net 10 ouderlinge en predikante wat almal my standpunt steun en ek het ‘n meerderheidsverslag.

9.3    Die verslag van 11 November 2017 is aan drie entiteite geadresseer: nl. Kerkrade wat oor ons opsig hou en die enigste orgaan wat bestaan tussen die Bondsvergadering.  Ons was heeltemal bewus daarvan dat die genomineerdes en gekoöpteerdes waarskynlik die meerderheid op die bestuurskomittee vorm. Daar is dan verwag dat hulle die etiese weg sou volg en hul sekundusse (‘n anderlid van die komitee wat hulle verteenwoordig) sou vra om hul gedrag op 03 November 2017 te toets. Dit is natuurlik nie gedoen nie.

9.4    Die gevolg was ‘n vergadering van predikante op 27 November 2017. Wat is die status van die vergadering? Hervormers ken nie so ‘n vergadering nie of is dit ons eie weergawe van ‘n colloquium?  Hoekom was daar net predikante op daardie vergadering? Het ons hier met ‘n stukkie hiërargie te doen?

  1. Respek vir advokate

10.1  Kom ons raak ook van ‘n paar mites ontslae. Die sogenaamde regsbedryf word grootliks deur prokureurs beheer. Dit is die prokureurs wat kliënte het en van tyd tot tyd van advokate gebruik maak as pleitbesorgers of vir opinies. ‘n Prokureur kan in al die howe verskyn waar advokate verskyn. Advokate word deur ‘n prokureur opdrag gegee om ‘n sekere werk te doen. Die prokureur staan in vir die advokaat se fooi. Hy moet die advokaat se fooi betaal selfs al het die kliënt dit nie betaal nie. Dit is ook die prokureur wat die advokaat se dienste beëndig. Wanneer werk gedoen word, stuur die advokaat dit aan die prokureur terug om dit na te gaan en as hy tevrede is word dit onderteken en verder uitgestuur volgens reëls. ‘n Advokaat sien ook nie ‘n kliënt sonder dat die prokureur teenwoordig is nie. Die prokureur se werk is meer omvattend as dié van die advokaat en dit is dan ook verstaanbaar hoekom prokureurs se opleiding langer duur as die van advokate. Om ‘n ander vergelyking te gebruik; in ‘n rugbywedstryd is die prokureur die losskakel wat die spel beheer. Die advokaat is ‘n impakspeler. Die prokureur besluit of, hoe, waar, wie hy as impakspeler wil gebruik.

10.2  Senioriteit is belangrik in beide die prokuraat en die advokatuur.  Al hierdie dinge beteken egter niks as ons in die kryt klim nie. Dan spreekwoordelik slaat ons mekaar, of jy nou oud of jonk, junior of senior, prokureur of advokaat is maak nie saak nie. Al wat geld is die reëls van die spel en die belange van jou klient.

10.3  Wat Br. Du Plessis aanbetref is dit ooglopend dat ek langer ‘n prokureur is as wat hy ‘n advokaat is. Hy het geen respek teenoor my betoon nie. Ons het sy snedige opmerkings al in die eerste minute van die vergadering gehoor. U versuim natuurlik om vir die mense te vertel dat hy al vroeg die toon van die vergadering bepaal het deur na ons te verwys as die “Greyling boeties”. Toe ek hom vasvat en hom vertel ek is nie sy speelmaat nie, het u ‘n probleem met my harde woorde en houding gehad. Toe ek u daarop wys wat hy gesê het, het u ons altwee flouering vermaan. So het dit die hele tyd gegaan. Hy soek moeilikheid, dan kry hy pak en dan is u vreeslik besorg oor orde. Onthou u nog hoe u my probeer dwing het om die Broederbond vrae te antwoord. Daar het eers rustigheid gekom toe die advokaat die aftog geblaas en die vergadering verlaat het. Dit is veral oor hierdie deel van die vergadering dat die opname geweldig belangrik is en dat dit nie van ons opsighouers weggehou word nie. Hulle moet baie goed kan oordeel wat daar plaasgevind het.

10.4  Onthou u nog? Die junior het met notapapiertjies gesit wat sy keer op keer vir die senior aangegee het as ‘n aanslag misluk. Dan het hy die notatjie gelees en weggetrek met ‘n nuwe aanslag. Partykeer kon hy nie so lekker die kloutjie by die oor kry nie. Dit is juis in so ‘n mistasting dat dit geblyk het dat u vooraf ruggespraak met dié twee oor Jan Greyling se status as student by die APK Akademie gevoer het. Dit is so, ek het toe baie lekker vir u verleentheid gelag. Dit is ook so dat ek ‘n hele paar keer gelag het veral wanneer die uitdryfonderrok te vêr uitgehang het.

  1. Hierargie

11.1  Watse dier is ‘n hierargiese bestuursmodel? Dit is belangrik dat u die onderskeid maak tussen bestuur en regeer. Verwarring hierin kan verrykende mistastings tot gevolg hê. In kort, bestuur gaan daarom om ‘n bepaalde oogmerk tot uitvoering te bring. Regeerkunde moet toesien dat die wyse waarop die oogmerk bereik word aan beskaafde godsdienstige waardes voldoen. Voorbeeld, as ek nie hou van wat ‘n lidmaat doen nie kan ek nie sommer ‘n uitdryfvergadering reël om van hom ontslae te raak nie. Daar is prosesse en vereistes. Die man moes eers ‘n reël oortree. Dan is daar beskaafde en godsdienstige voorskrifte hoe dit gedoen moet word. Dit is dan die regeerders se taak om toe te sien dat so iets nie gebeur nie, dat alles ordelik geskied en die onordelikes te vermaan. U moet onthou dat die presbiteriaal-sinodale stelsel soos dit in die NHKA kerkorde vergestalt is, het nie baie foute nie. Met die uitsondering van twee of drie kwessies is die ontwerp goed. Die probleem het gekom toe die ouderlinge hul regeerplig laat vaar en ‘n spul ja-broers geword het. Daar was geen regeerfunksie wat orde kon handhaaf nie. Selfs Calvyn het destyds al besef dat ‘n mens nie homself kan oppas nie daarom die besondere klem wat hy op die amp van ouderling gelê het.

11.1  Ek wil tog ‘n ander mite in die bed sit. Waar het die Hervormde Kerk se probleem vandaan gekom? As u teruggaan in die geskiedenis was die NHKA ‘n welaf kerk. Vooraanstaande kundiges het op die Raad van Finansies gesit.  Daar was geen beperking op die termyn van voorsitter van die AKV nie en het een persoon omtrent die dekade van tagtig gedien en daar was baie voltydse poste. Dit het lekker gegaan. Toe aan die einde van die dekade kom die kerk agter hy skuld die bank ongeveer R100 miljoen. Toe begin die groot “sale” waar bates toe vir ‘n appel en ‘n ui verkoop is om die skuld te delg. As ek reg onthou het daar toe nog so R23 miljoen oorgebly waaraan die kerk tot hierby 2007 rond betaal het. ‘n Rowwe skatting sou sê dat die Kerk ongeveer R200 miljoen verloor het.

11.2  Hoekom dinge so skeef geloop het, het ons nooit gehoor nie. Toe ek as jong ouderling op ’n verduideliking oor wat skeefgeloop aandring, is ek kwalik geneem. Die ou storie, jy skep onrus in die gemeente. Trouens daar is hard gewerk om die probleem van die lidmate weg te hou. Kortom, die regeerders van die tyd het laer getrek, die krisis ontlont, die gemeentes in die skuld gedompel maar nooit werklik skoongemaak nie. Hulle het nooit die onderliggende probleem aangespreek nie want dit sou te veel verleenthede veroorsaak. Daarop het die kerk maar op dieselfde manier voortgegaan. Die gevolg dat dit stadig begin bloei het omdat dit nie die nodige reserwes gehad het nie. Hoe gebeur dit? Die antwoord is eenvoudig – klein groepies. Groepies wat hulself beskerm het terwyl hulle stadig maar seker van die probleem af wegbeweeg. Diegene wat lastig raak of te veel vrae vra kan nie onder opsig en tug mee gehandel word nie. Dit is dan in die openbare oog. Daarom die uitdryfmeganisme.

11.3  Duur sinodale strukture is die gevolg van klein groepies wat ongekontroleerd maak soos hul goeddink met die wete dat hulle nooit aangespreek sal word nie.  Dit het niks met bestuursmodelle te doen mie maar die swakheid van die mens. U kan maar gaan kyk na moderne gedragskodes vir korporatiewe bestuur soos bv King III en IV. Die mens moet gekontroleer word deur strukture van verantwoordelikes. Die ironie is dat Calvyn dit al ‘n paar honderd jaar terug geweet het. Die verdere ironie is dat sy eie volgelinge hom nie glo nie. Soos die getalle hieronder uitwys, die poging om die Ad Hoc komitee ‘n stutorganisasie van die bestuurskomitee te maak, die uitdryfsage van 3 November 2017, die wegsteek van die opname en die kersie op die koek, die poging om buitelanders uit te sny is kenmerke van ‘n baie siek organisasie. Verdere ongesonde verskynsels wat begin manifesteer is die uitkryt van “moeilike” lidmate as onrustokers of skeurmakers. As daar dan klagtes kom word daar weggekruip agter Matteus 18. Onthou u nog hoe gefrustreed almal was toe die kommissie van die AKV nadat hulle die klagte teen die dosente ontvang het weggekruip het agter broederlike gesprek. Is dieselfde besig om hier plaas te vind?  (In die bestuurswêreld staan hierdie verskynsel bekend as unitarisme. Daar is ‘n baas, hy weet alles, hy is altyd reg en sy meelopers beskerm hom ten alle koste.)  U en ek as ouderlinge moet hieroor baie bekommerd wees.

11.4  Wat hierargie betref Oudl de Ridder, het ek al heelwat geskryf en/of uitsprake gemaak. U kan maar dieouderling.wordpress.com gaan lees. Daar is heelwat wat hierargie aansny. Kyk veral na NHKA(VDM) Beperk en Jan Greyling se artikel spesifiek oor die anti-hierargiese beginsel. Daar is geen basis waarop u so ‘n stelling kan maak nie. Dit is vals en blote propaganda.

11.5  Ek wil u verder daaraan herinner dat u op 3 November 2017 langs twee predikante gesit het wat weer regoor oor my gesit het. Die twee predikante het te kenne gegee dat hulle nie weer enige gesag oor hulle sal aanvaar nie. Hulle verwerp die “PSS”. Ek het hulle daarop gewys dat hulle inkonsekwent is want die kuratorium wat geskep is bykans ‘n replika van die Kommissie van die AKV en dit funksioneer ook so. Dit is hierargie par excelance. Ek het hulle daarop gewys dat daar ander maniere binne die “PSS” is om die tugfunksie van predikante te hanteer en hulle uitgenooi tot gesprek. Dit is nie aanvaar nie.  U het my standpunt gehoor, u is ook in besit van ‘n opname. Hoekom stuur u so valsheid die wêreld in?

11.6  Hoe sien die Geloofsbond hierargies daaruit. Voor die Bondsvergadering van 2017 het dit so gelyk: Daar was geen ouderlinge op die bestuurskomitee nie. Daar was ongeveer 43 lede wat op komitees gedien het. Daarvan was slegs 7 ouderlinge, 1 diaken en 3 buitepersone. Die res was predikante. Daar was predikante wat selfs op 4 komitees gedien het. Kom ons vergelyk dit met die NHKA. Die Kommissie van die AKV bestaan uit uit 5 predikante en 9 ouderlinge. Die moderamen bestaan uit 4 predikante en 4 ouderlinge. Ek dink nie die situasie het sederdien veel verbeter nie. Hierdie syfers kom uit die Ottosdal dokument waarna Drs Otto en Bothma verwys.  Dit laat mens dink nê. Is ons op pad na ‘n GHG (VDM) Beperk?

  1. Waar lê die hierargie nou.

12.1. Waaroor gaan dit eintlik? Ons sê dat daar in 2013 ‘n besluit deur die Bondsvergadering geneem is waar dit duidellik gestel is dat die teologie van die NHKA soos dit is 2010 gesien is, gevolg word. Die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstesel word ook as die regeringstelsel aanvaar. Die uiteensetting van die besluit is uiteengesit deur Dr. Storm in die SKIETLOOD:36 van 28 Maart 2014. Hierdie twee beginsels is vervat in ‘n dokument: GHG Kernwaarhede en dan in die besonder onder die titel: Indentiteitskenmerke.

12.2  Daar kan nou waarskynlik geargumenteer word dat daar verskeie verstane van presbiteriaal-sinodaal is. Vir Hervormers is dit egter nie ‘n problem nie. As ons wil weet wat presbiteriaal-sinodaal beteken hoef ons maar net te gaan kyk na die verwerkte proefskrif van Dr. BJ van Wyk (1991). Prof. Pont het die voorwoord geskryf en hy skryf onder andere die volgende:

Hierdie deeglik, wetenskaplik en deurdagte studie oor die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip, is vir ons kerklike denke van groot waarde … . Dit is die eerste keer in ons kerk se bestaan dat so ‘n deeglike en omvattende studie oor die kerbegrip gedoen is.”

Oor kerkbegrip skryf Dr. Van Wyk soos volg: “Naas die begrippe kerkreg en kerkorde kom ook die kerkbegrip ter sprake wat beskryf kan word as die knooppunt van die kerklike denke, as die gesistematiseerde samevatting van wat oor die kerk, deur die Skrif en die Belydenis gestel word”.

12.3  Vir gereformeerde of hervormde kerke van Nederlandse afkoms is kerkbegrip en kerkorde veel meer as ‘n bestuursmodel. Kerkbegrip en orde word nie sommer uit die lug gegryp nie. Dit moet Bybels en belydenisgewys verantwoordbaar wees. Bybel, belydenis en kerkorde is altyd aanmekaar gekoppel. Wanneer dan vertel word dat die navorsing van die Jesus Seminar nuwe insigte gebring het oor hoe die Bybel verstaan moet word, veral ten opsigte van kerkwees, dan moet ‘n ouderling begin katvoet loop. As die sg. nuwe insigte tot ‘n verandering in kerkorde moet lei beteken dit dat die belydenis eenkant gestoot word. As iemand glo dat ons die Bybel verkeerd verstaan moet hulle maar die bestaande prosesse volg vir die wysiging van die belydenisskrifte. Daar kan nie kortpad gevat word nie. Ek kan net meld dat Prof Ernest van Eck juis hierdie nuwe insigte rondom die verstaan van die Bybel gebruik om die belydenisskrifte te ignoreer. In 2013 het hy juis in sy argument teen ‘n beskrywingspunt wat gevra het vir die herroeping van besluit 54 die saak uitgemaak dat die nuwe insigte hom noodsaak om die belydenisskrifte te ignoreer.

  1. Feminisme

13.1  Ek verstaan nie u argument nie. My aandrang op verantwoordelike kooptering berus op my verantwoordelikheid om te waak teen klein groepies wat soos dit nou blyk, ‘n wesentlike probleem in die GHG geword het.

13.2  Ter afsluiting, ek nooi u weer, laat u gedrag toets. Dit is al manier hoe julle jul integriteit kan behou. Hierdie sage kon lankal afgehandel gewees het. Gaan na julle ouderlingvergaderings toe, sê vir hulle wat julle gedoen het. Laat hulle na die opname luister en ‘n oordeel vel en die nodige regstellings doen waar nodig. Ek sal dieselfde doen.  Ek gaan beslis nie so vermetel wees om te beweer dat ek alles kan onthou en nog boonop volgorde kan onthou nie. Ek kan bv nie onthou of ek vir die Br Du Plessis ‘n bul genoem het wat moet grootword nie. Dit mag heel moontlik wees. In die trant waarmee hy tot die vergadering bygedra dink ek hy het dit in elk geval verdien as ek dit sou gesê het. U meld egter nie wat hy gesê het nie. Net nog ‘n opmerking, sovêr my geheue strek het ek vir die junior gelag toe sy ‘n onverantwoordelike opmerking oor meerdere vergaderings gemaak het. Haar man het toe reeds die aftog geblaas. U stel hom in ‘n slegte lig deur te beweer hy het geloop omdat ek sogenaamd sy vrou beledig het. U laat dit lyk of hy sy vrou in die steek gelaat wat nie waar is nie.

OUDL. PJ GREYLING

  1. Ek het so pas ‘n afskrif van die kuratorium se uitspraak oor Jan Greyling se klagte ontvang. Sies!
Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s